Climate Smart Agriculture Raisins SA Newsletter

December 22, 2022 / in News

Die Climate Smart Agriculture (CSA) Projek is ‘n samewerking tussen Metos SA, TerraClim, Geosmart en die Centre for Geographical Analysis (CGA). Die twee laasgenoemde entiteite vorm deel van die Universiteit van Stellenbosch. Die CSA projek het sy oorsprong in die Wes-Kaap weens hierdie provinsie se komplekse terrein en die groot invloed daarvan op die verbouing van gewasse. Metos SA, ‘n maatskappy wat deel vorm van die WinField United South Africa groep, installeer 200 weerstasies regoor die Wes-Kaap as deel van hierdie projek. Die doel is om die provinsie se klimaat beter te verstaan en produsente in staat te stel om beter besluite te neem. Hierdie weerdata word ingevoer in die TerraClim platform, wat weer- en terreindata kombineer om onder andere produsente te help met die identifisering van die bes geskikte gewas of kultivar op plaas/blok-vlak.

As deel van die CSA projek is die span ook getaak om bewusmaking rondom klimaatsverandering te bevorder en om opleiding aan te bied rakende die toepassings beskikbaar in landbou. Dit sal help om beter toegerus te wees en aan te pas by beide kort-en langtermyn weerspatrone en klimaatsverandering.

Metos SA en TerraClim, in samewerking met Raisins SA, het op 10 en 11 Mei 2022 CSA opleidingsdae aangebied in Upington en Kakamas. Die doel was om te illustreer hoe Metos SA se platform, FieldClimate, en TerraClim gebruik kan word om ingeligte besluite te neem spesifiek vir wingerdbou.

Die bywoning van hierdie opleidingsdae bevestig dat produsente langs die Oranjerivier bewus is van die druk waaronder landbou, en veral wingerdbou, is as gevolg van konstante verandering in weer en klimaat.

As deel van die opleidingsessies was daar ook ‘n kort toets oor die inhoud van die dag. Fotos van die top presteerders hieronder.

Baie dankie aan Raisins SA vir die hulp om hierdie opleidingsessies moontlik te maak en dankie aan almal wat bygewoon het.

Deur: Ebené Oranje-Swarts